| Mense smag na lewe! Ons leef in tye waar mense baie bewus is van die feit dat daar meer in die lewe is as wat met die eerste oogopslag raakgesien word. Die lewe gaan om meer as werk en huis toe ry en rondjaag. Ons is oortuig dat mense dalk nie raakgesien het dat Jesus ’n baie besondere boodskap vir ons tyd en omstandighede het nie. Wat is die boodskap? Dat ware lewe moontlik is. Dat mens die Lewe voluit kan vier en ervaar. Jesus sê self: Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. (Joh. 10:10) Weltevreden wil mense graag help om hierdie geheim opnuut te ontdek. |
| Luister na ons mense: |
Ons doen baie moeite om te luister na die mense in ons omgewing. Ons het ‘n paar dinge gehoor: Mense in ons omgewing lei ‘n gejaagde lewe; dit is mense wat op soek is na herstel en nuwe energie midde-in ‘n wêreld wat alles uit mens neem. Mense wat op soek is na die geheim van die lewe. Mense wat besef dat daardie geheim alles te doen het met jou geestelike lewe. Weltevreden se visie is om sulke mense te help om ware lewe in Christus te ontdek. Ons wil mense help om in hulle alledaagse lewe die dinge wat hulle in ieder geval doen, soos ware volgelinge van Jesus te doen. Ons wil mense in hierdie gejaagde stadslewe help om iets van ewige tyd te ontdek. |
| Fokus: |
Ons besef dat die ganse wêreld smag na hierdie boodskap van ware lewe. In ons omgewing is dit duidelik dat die kerk ‘n unieke geleentheid het om veral uit te reik na die groot aantal jongmense wat op een of ander manier weggedryf het van die Here. Studies oor ons omgewing wys duidelik uit dat meer as 60% van die inwoners jonger as 35 is. Ongelukkig is net ‘n klein persentasie van hierdie jongmense volgelinge van Jesus. Ons gemeente doen baie ter wille van mense ouer as hierdie groep (en hierdie werk gaan natuurlik aan!), maar ons is oortuig dat ons in die besonder gestuur word na hierdie mense wat selfs beskryf word as ‘n “verlore generasie”. Ons uitdaging is om kreatief te dink aan maniere om die boodskap van ware lewe by hulle uit te kry. Om te deel in God se Ryk is om hulle te help om deel van God se revolusie te wees. |